Die Redder


Opgedra aan Pasha, Kasper, Sebastiaan, Liefka en Stella wat ons lewens altyd verhelder.


Djoser gee ʼn diep sug, “Ai dierbare Juba, wat gaan van ons word?”

“U Majesteit, ek is net so bekommerd, dis duidelik dat die sewe vet jare verby is en hoe gaan die volk oorleef?”

Djoser streel oor Juba se rug en sy lang stert, Juba begin saggies spin. “U Majesteit, hulle gaan inkom en alles verwoes en opvreet en niks kan hulle keer nie!”

“Ek weet Juba. Maar ek wil hê dat jy moet lank dink hieroor. Jy verstaan diere soveel beter as ek."

 

Juba kom stert orent by die troonsaal in. “U Majesteit, ek dink ek het dit!”

Djoser kyk op, “Vertel my asseblief want ek weet nie meer nie. Ons kos gaan te gou opraak in die sewe maer jare en daardie aaklige Kanaaniete gaan oor die see kom en ons mense doodmaak.”

“U Majesteit, daar is ʼn dier wat familie van my is. Ons mag dalk die vinnigste dier op aarde wees, maar hulle is baie kleiner, ratser en dis net wat ons nodig het om die vyand te keer voor hulle alles kom opvreet.”

“Juba, bring hul leier dat ons praat!”

 

Twee dae later kom Juba met die klein diertjie. Hy is gemmer kleur en strepies oor sy lyfie. Op sy voorkop staan dit duidelik geskryf, "M"!

“Maar jy is te oulik, jy lyk dan nes Juba maar is piepklein! Hoe kan jy ons help?”

“U Majesteit, ons woon op ʼn eiland hier naby en kom maklik hier op boomstompe wat op die see dryf. Ons kan gou kom en die vyand oorrompel. Ons vang hulle en dan eet ons hulle sommer op!”

“Regtig? En jy dink julle sal ons kan red?”

"U Majesteit, niemand kan iets belowe nie, al wat ek u kan belowe is dat ons ons bes gaan doen." Hy begin sy stert lek en krul homself voor-op-die-wa teen Faro Djoser se voete, spin heerlik en raak aan die slaap.

Djoser weet nie wat om te glo nie … hy kan maar net hoop want alle raad is op.

 

Die gerugte trek deur die koninkryk, die vyand word al minder en as wysgere hul somme maak lyk dit asof die volk sal oorleef deur die sewe maer jare!

Die groot rivier kom af, almal jubel want die sewe vet jare het weer aangebreek! Faro Nebeb roep die volk bymekaar, Juba sit regop langs sy troon en is so tevrede. Oral op die volk se skote sit die klein outjes, hulle spin en lek hulself met oorgawe!

 

“Wysgere, Skrifgeleerdes en almal van ons groot nasie, dit is my eerste optrede na my vader se dood. Ek het ʼn afkondiging om te maak. Die diertjies wat ons gered het sal tot die adelstand verhef word!”

Die volk juig dat jy dit tot anderkant die Rooi See kon hoor!

"Hulle gaan nou ʼn naam kry en dit sal Die Redder wees of in ons taal, Caute.”

Die gejuig nou nog harder!

"Dan liewe onderdane sal ons vir my vader ʼn grafsteen bou wat duisende slawe vir baie jare sal laat werk. Dit sal uittroon en die grootste monument ooit wees.”

Hy sluk diep, vee sy trane af met ʼn papirus doekie, “Verder het die profete en skrifgeleerdes my gevra dat ons ʼn standbeeld sal bou. Dit sal my vader se gesig dra op die lyf van ons geliefde Caute.”

Die gejuig nou nog harder. Nebeb kyk af, dink lank en toe, “Die groot profeet Amenhotep het gister vir my ʼn wonder storie kom vertel wat julle vir geslag na geslag sal oorvertel."

Hy bly ʼn rukkie stil, "Daar sal vele somers verby gaan en baie ver van hier sal ʼn nuwe taal begin en dit sal die mooiste taal wees wat ooit gepraat sal word. Die diertjies in daardie taal sal genoem word ... ‘katjies’ "


Comments

Popular posts from this blog

Tussen Treine, tussen Stasies ...

Get them to listen!

NOUE ONTKOMING