Tussen Treine, tussen Stasies ...
Tussen Treine, tussen Stasies ...
© VDS Brink
“Elke keer was dit ʼn afskeid, elke keer weer ʼn begin, ʼn honderd
haltes langs die spoor, elke stasie het sy eie skim.”
Die sekelmaan hang stil in die weste, die blare van die bloekoms
hang stil.
“Jy kan maar blaas ou Pieter, die groen vlag waai al!” sê Koos.
Pieter trek die ketting in die dak en die skril fluit weergalm oor
Hutchinson stasie. Koos trek die hefboom en die 25C begin stadig vorentoe
kruip, die Trans Karoo agter hom met die slapende passasiers. Voor op die rook
deflektors staan met trots en blink ge-Brasso, “Annemarie”
Gou-gou wys die spoedmeter vyftig myl per uur.
“Nog vyf om te gaan dan is ons daar!” sê Koos. “Pieter gee nog so
bietjie gas jong, ek maak vir ons koffie!”
Pieter neem die graaf en skep diep en gooi vêr in die vuurkas. Die
ag reuse wiele klip-klap op die laste. Koos kyk uit na sterrehemel soos jy net
in die Roggeveld sal sien. Biesiespoort kom nader, die sinjaal is op en die nag
voorman staan reeds gereed op die platform om die ring aan te gee.
“Hallo Johan!” roep Koos vrolik.
“Mooi ry oom!”
Pieter weet wat nou gaan gebeur, almal in De Aar lag mos daaroor,
sit sy graaf neer en leun saam met Koos by die venster uit. Net hulle by die
koppies anderkant die van die stasie verby ry en die dowwe lamplig in die plaasopstal
mooi sien, val hy luidkeels saam met die oom in, “My oom se motor is ʼn ou
masjien ... stuur groete aan Mannetjies Roux!”
“Lekker slaap ou Mannetjies en tannie Charlotte!” roep Koos in die
nag.
Die 25C, sy paf-paf mos nie, want C staan vir “condenser”, loop
heerlik en navigeer die smal spoor met al die wysheid van haar vyftig jare. Dit
word skemer in die Ooste, Drie Susters reeds agter hulle en die reis byna
verby.
Hulle maak die wye draai om Beaufort se dam. “Weet jy Pieter, dis
net hier waar Dokter sy dogter leer ski het ...”
Die pale verskyn weerskante van die spoor, die dik draad hang oor
hulle. Toe hulle Beaufort binnegaan, die geklik van die wielslaners weerklink
... en dreigend staan die blinknuwe 6Es geparkeer.
“Pieter, ek belowe jou niemand sal ooit ʼn draadkar ʼn naam gee
nie,” sê Koos verbitter.
Koos en Pieter haak af, rangeer tot by die skuur, draai vir
Annemarie om en blaas af. Nou gaan rus om vanaand weer terug huis toe te gaan.
Huis toe ... vir die heel laaste keer.
Koos en Annemarie sal saam moet gaan. Sy na die skrootwerf se
genadelose sweisvlam en Koos sal weer alleen oorbly. Weer alleen met net sy
hoenders in die agterplasie en die ou drywers wat altyd bymekaar staan.
Koos maak sy kosblik oop, daar is ʼn bossie wit rose, vir die
laaste keer stap hy na die ou kerkie in die hoofstraat, kniel by die graf en
soos hy al die jare doen, en sit wit rose op die graffie van Dokter.
Die volgende oggend, baie vroeg, stap hy weer met nog bossie rose
na De Aar se kerkhof om vir haar te gaan gee, nou reeds vyftien jaar van hom
weggeneem, om weer en weer te gaan huil oor ... Annemarie.
Comments
Post a Comment